PRET IN PRAGTIGE PAARL

COVID-WYS

Paasnaweek en die eerste skoolvakansie van 2021 is om die draai en Paarl is perfek geleë vir ‘n vinnige wegbreek minder as ‘n uur se ry uit die Kaap met ongerepte natuurskoon en oop spasies. Die wye verskeidenheid wynplase, restaurante en besienswaardighede beskik oor genoeg ruimte om sosiale afstand te handhaaf en produkeienaars is uiters bewus van COVID-protokols en hou streng daarby.

KOS EN KUIERTYD

Koeler herfsdae is die ideale tyd vir kosliefhebbers om van die Kaapse Wynland se besbewaarde kosgeheime in die Paarl te ontgin.  Vir drie uiteenlopende smaakervarings, is die restaurante FABER, Noop en Grande Roche beslis ‘n besoek werd.

FABER se gastronomiese inslag is ’n onbeskaamde viering van die oorvloed van die natuur. Vanaf die stoep van grasieuse Kaaps-Hollandse kry besoekers ongelooflike uitsigte oor die vallei, Tafelberg en Paarlrots.  Sjef Dale se moderne plaas-tot-tafel benadering tot die spyskaart is innoverend en indrukwekkend.

Grande Roche Restaurant met sy prentjiemooi  uitsigte is ideaal vir heeldag kuier – van ontbyt op die patio langs die swembad tot oesters en vonkelwyn met sononder of peuselhappies en skemerkelkies op die terras.  Sjef Kevin wat ondermeer aan die stuur was van Jan-Hendrik van der Westhuizen se Michelin-ster restaurant JAN in Nice, druk sy glansstempel af op die spyskaart.  Hy gebruik verkieslik plaaslike produkte en skep eg-Suid-Afrikaanse disse met ‘n internasionale flair.

Vir ‘n gesellige kuier-ervaring en smulleker plattelandse fynproewerskos, is Noop beslis die plek.  Sjef Zian se informele bistro is in ‘n erfenisgebou onder twee majestieuse eikebome in Paarl se karaktervolle hoofstraat.  Die onopgesmukte seisoenale disse word gemaak van vars produkte uit die omgewing en voorgesit met topgehalte wyn van die uitgebreide wynlys. Daarmee saam verseker sjef Zian se gasvryheid vir ‘n onvergeetlike ervaring.

WONDERLIKE WYNE

Gaan loer gerus in by een van die bekendste ikone in die Kaapse wynland – Fairview Kaas- en Wynlandgoed.  Die plaas is in 1963 gevestig en bied ‘n verskeidenheid ervarings soos ‘n varsprodukte deli, ‘n bakkery, proelokaal, proeklasse en natuurlik die gewilde Goatshed Restaurant.  Die boktoring is sedert 1981 die tuiste vir Fairview se gewilde boktrop, wat ewe geliefd is by kinders en volwassenes.

Die proelokaal is vernoem na die eienaar Charles Back se oorlede moeder, Beryl Back en spreek van die warmte en gasvryheid waarvoor sy alombekend was.  Die elegante Beryl Back proekamer se hoogs bekwame proeleiers bied eksklusiewe in-diepte proeë aan.   Elke meesterproe word sorgvuldig gekombineer met Fairview kaas, varsgebakte brood en olyfolie van die plaas.

Nederburg se manjifieke Manor restaurant bied smullekker ontbyte, ligte middagetes, charcuterie borde en piekniekmandjies. Avontuurlustige wynliefhebbers kan hulle proehorisonne verbreed met die Vyf Sintuie kos- en wynervaring wat spesiaal geskep is om die sintuie te prikkel. In die Vintage Vault kan van die mees uitsonderlike wyne oor vier oesjare geproe word.  Vooraf besprekings is noodsaaklik.

Paarl se paaie lei na ‘n wye verskeidendheid bestemmings en Ridgeback Wyne is beslis ‘n stop werd.  Die luukse proelokaal is die perfekte tuiste vir bekroonde landgoedwyne wat die karakter van Paarl wynstreek vasvang.  Die lowergroen tuin, dam met pragtige swart swane en dekrestaurant bied ‘n rustige atmosfeer waar heerlike kontreikos geniet kan word.  Daar is ook oornagfasiliteite vir diegene wat effe langer in die gastehuis wil ontspan.

FEESTELIKE FAMILIETYD

Laai die familie in en gaan verken die wynland.  Perdeberg Kelder is beslis ‘n familie-vriendelike bestemming met baie spasie binne en buite, sodat dit maklik is om sosiale afstand te behou. Daar is iets vir die hele gesin met binne en buite sitplekke asook wynproee vir volwassenes en proebokse vir kinders.  Die jongklomp kan lekker buite speel in die tuin, terwyl ouers ontspan met ‘n glasie wyn. Geniet plattelandse kookkuns by Eat@Perdeberg of bestel ‘n piekniekmandjie – veral die braaipiekniek is uiters gewild.  Streel die keel met ‘n keuse van Perdeberg se topgehalte wyne of tuisgemaakte biere.  Vir ‘n ekstra bederfie probeer gerus ‘n wynkombinasie met sjokolade of droëvrugte.

Diereliefhebbers sal beslis ‘n besoek aan Alpaca Loom geniet, waar besoekers die alpacas met die hand kan voer of hierdie interessante diere van nader kan leer ken tydens ‘n begeleide toer saam met die eienaars. Dis ‘n sakpas-uitstappie wat ouers die geleentheid bied om by die koffiewinkel te ontspan, terwyl hulle ‘n oog oor die kinders in die speelarea kan hou.  Die spyskaart is lig met ‘n keuse van tuisgebakte koek, croissants, pasteie en broodjies.   Leer ook hoe die mooiste serpe, komberse en matte geweef word.

BUITELUG BELEWENIS

Grendeltyd het sonder twyfel ‘n nuwe waardering vir die buitelug geskep en Paarl bied talle opsies vir avontuurbelaaide uitstappies.  Gaan verken gerus die netwerk van stap- en fietsroetes op Paarl Adventure Trails, wat die plase om Paarlberg aan mekaar verbind. Geniet die talle asemrowende besoekpunte, pragtige natuurskoon en heerlike kos en wyn.  Opsies strek van ‘n familie-vriendelike 3km stap tot ‘n meer uitdagende 35km roete.  Beginpunte sluit ondermeer Rhebokskloof, Spice Route en Knus Karoo Kombuis in.

STUKKIE GESKIEDENIS

Besoekers kan gerus die Voicemap selfoontoepassing aflaai om ’n selfbegeleide erfenistoer: ‘Paarl Erfenistoer – ‘n verhaal van pêrels en wyn’ te doen en van die dorp se geskiedkundige besienswaardighede te sien. ’n Bekwame virtuele toergids vertel interessante staaltjies en grepe uit die geskiedenis, wat die ryk erfenis van die dorp en sy mense laat herleef. Die stemgids is gratis beskikbaar in Afrikaans, Engels en Duits.

Daar is soveel om te sien of te doen, dat ’n dag in Paarl heel moontlik te kort gaan wees. Gaan loer in by die toeriste-inligtingsentrum vir aanbevelings vir oornagopsies of soek spesiale akkommodasie-aanbiedings op die webwerf.

Kontak +27 (0) 21 872 4842 of paarlinfo@dlta.co.za vir meer inligting. Besoek ook Paarl se webblad www.paarlonline.com of volg hulle sosiale mediaplatforms by @Visit Paarl.